1 Konings 13:15-26 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die ou profeet sê toe vir hom: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets.”

16. Die man van God het vir die ou profeet gesê: “Ek mag nie saam met jou teruggaan na jou huis nie, ek mag nie eet of drink in hierdie plek nie,

17. want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie eet of drink nie en jy moenie teruggaan op die pad waarop jy gekom het nie.’ ”

18. Die ou profeet sê toe vir die man van God: “Ek is ook ’n profeet soos jy. ’n Engel het vir my ’n boodskap van die Here gebring en gesê: ‘Jy moet die man van God saambring na jou huis en jy moet vir hom kos gee om te eet en water om te drink.’ ”Maar die ou profeet het vir die man van God gejok.

19. Toe gaan die man van God saam met die ou profeet terug en hy het in sy huis geëet en gedrink.

20. Terwyl hulle by die tafel gesit het, het die Here gepraat met die ou profeet wat die man van God laat terugkom het.

21. Die profeet het gepraat met die man van God wat van Juda gekom het. Hy het geskree en gesê: “Die Here sê: Jy was opstandig teen die Here, jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie!

22. Hy het gesê jy moenie terugkom en eet en drink in hierdie plek nie, maar jy hét teruggekom en dit gedoen. Daarom sal hulle jou lyk nie begrawe in die graf van jou voorvaders nie.”

23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die ou profeet wat hom laat terugkom het, die man se donkie laat opsaal.

24. Die man van God het toe daar weggegaan. Langs die pad het daar ’n leeu gekom en hy het die man van God doodgemaak. Die man se lyk het op die pad gelê, en die donkie en die leeu het by die lyk gestaan.

25. Daar het mense verbygekom en hulle het gesien dat die man van God se lyk op die pad lê en dat die leeu by die lyk staan. Hulle het dit gaan vertel in die stad waar die ou profeet gewoon het.

26. Die ou profeet wat die man van God laat omdraai het, het dit gehoor en hy het gesê: “Dit is die man van God wat opstandig was teen die Here. Die Here het die leeu na hom toe gestuur, en die leeu het hom verskeur en doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.”

1 Konings 13