Rigters 7:2-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’

3. Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.”Twee en twintig duisend man het toe van die leër af padgegee en tien duisend het oorgebly.

4. Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel. Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. As Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saamgaan’, moet hy met jou saamgaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een mag nie saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.”

5. Toe het Gideon die manne afgevat water toe en daar het die Here vir hom gesê: “Elkeen wat water drink soos 'n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink.”

6. Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Die res het gekniel om te drink.

7. Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.”

8. Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou.Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte.

9. Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor.

10. Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan.

11. Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.”Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in.

12. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see.

13. Gideon het in die kamp ingekom net toe 'n man vir sy maat hierdie droom vertel: “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom 'n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die brood het die tent omgestamp en die tent het inmekaargetuimel.”

14. Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.”

15. Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.”

16. Gideon het die drie honderd man in drie groepe verdeel en aan elkeen 'n ramshoring en 'n leë erdekruik met 'n fakkel daarbinne gegee.

17. Toe sê hy vir sy manne: “Let mooi op wat julle moet doen: as ek by die onderpunt van die kamp kom, moet julle doen wat ek doen.

18. As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!”

Rigters 7