Rigters 7:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.”

15. Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.”

16. Gideon het die drie honderd man in drie groepe verdeel en aan elkeen 'n ramshoring en 'n leë erdekruik met 'n fakkel daarbinne gegee.

17. Toe sê hy vir sy manne: “Let mooi op wat julle moet doen: as ek by die onderpunt van die kamp kom, moet julle doen wat ek doen.

18. As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!”

19. Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike.

20. Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!”

21-22. Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.

23. Die Israeliete uit Naftali, Aser en die hele Manasse is toe opgeroep om die Midianiete te agtervolg.

24. Gideon het boodskappers na die Efraimsberge toe gestuur: “Kom val vir Midian aan, beset die Jordaan tot by Bet-Bara voordat die Midianiete daar kom.”Toe is die Efraimiete opgeroep, en hulle het die Jordaan beset tot by Bet-Bara.

25. Hulle het twee leiers van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb. Efraim het vir Oreb doodgemaak op die Orebrots en vir Seëb in die Seëbparskuip. Nadat Efraim die Midianiete klaar agtervolg het, het hulle die koppe van Oreb en Seëb na Gideon toe gebring wes van die Jordaan.

Rigters 7