Matteus 10:2-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas;

3. Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus;

4. Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

5. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:“Moenie met 'n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in 'n dorp van die Samaritane ingaan nie.

6. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe.

7. Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’

8. Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9. “Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie

10. en moenie vir die pad 'n reissak aanskaf of nog 'n kledingstuk of skoene of 'n stok nie. 'n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11. “As julle in 'n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.

12. As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.

13. As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.

14. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

15. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

16. “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.

17. Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel.

Matteus 10