Josua 11:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is.

14. Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie.

15. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie.

16. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers.

17. Die gebied het gestrek van Kaalberg af wat na Seïr toe oploop, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant Hermonberg. Josua het al die konings in dié gebied verslaan en doodgemaak.

18. Hy moes lank teen hulle oorlog voer.

19. Behalwe die Hewiete in Gibeon het nie een stad met die Israeliete vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower.

20. Dit was die Here wat hulle in verset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, uitgewis word, soos die Here vir Moses beveel het.

21. In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei,

22. en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor.

23. Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam 'n deel.Die land kon toe rus van oorlog.

Josua 11