10. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
11. “Niemand nie, Here,” sê sy.Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
12. Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
13. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.”
14. Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie.
15. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie.
16. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.
17. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is.
18. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.”
19. Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?”Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.”
20. Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.
21. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”
22. Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?”
23. Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie.