1. 'n Uitspraak van die Here teen Egipte:Die Here ry op 'n vinnige wolk,Hy gaan na Egipte toe.Egipte se gode is bang vir Hom,die Egiptenaars se harte verstyf van angs.
2. Ek, die Here, sal die een Egiptenaar die vyand van die ander maak:broer sal teen broer veg, vriend teen vriend,stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.
3. Egipte se planne sal tot niet gaan,Ek sal sy planne verydel.Hulle sal gode gaan raadpleeg,besweerders, mediums, spiritiste.
4. Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van 'n harde regeerder,'n streng koning sal oor hulle heers,sê die Here die Almagtige, die Koning.
5. Die water van die Nyl sal wegdroog,die rivier sal leeg word en opdroog.
6. Die kanale sal stink,Egipte se waterstrome sal sak en opdroog.Die riete en biesies sal verdroog,
7. die waterplante langs die Nyl by die Nylmond.Alles wat langs die Nyl gesaai is, sal verdroog,dit sal wegwaai en verdwyn.
8. Die vissers sal kla en huil:almal wat met 'n hoek visvangen dié wat hulle nette in die rivier oopgooi, sal verdwyn.
9. Dié wat vlas verwerk, sal nie hulle werk kan doen nie,dié wat die vlas uitkam en weef, sal moed verloor.
10. Egipte se wewers sal platgeslaan wees,al sy loonarbeiders sal bekommerd wees.
11. Die leiers van Soan is dwaas,die slimste raadgewers van die farao gee slegte raad.Hoe kan julle vir die farao sê:“Ons is van die slim manne,afstammelinge van die konings van vroeër”?
12. Egipte, waar is jou wyse manne nou?Laat hulle jou tog vertel sodat jy kan weetwat die Here die Almagtige teen Egipte besluit het.
13. Die leiers van Soan se planne het niks gehelp nie,die leiers van Memfis het bedroë daarvan afgekom.Die beste raadgewers van Egipte het hom op 'n dwaalspoor gebring.
14. Die Here het hulle verwar;wat Egipte ook al doen,hulle het hom op 'n dwaalspoor gebring.Soos 'n dronk mens waggel hy in sy braaksel rond.
15. Niemand in Egipte kan hom meer red nie,nie die leiers of die slawe nie,nie dié met aansien of dié daarsonder nie.
16. Daardie dag sal die Egiptenaars soos vrouens wees. Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf.
17. Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees; elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het.
18. Daardie dag sal die inwoners van vyf Egiptiese stede Hebreeus praat, en wanneer hulle 'n eed aflê, sal hulle dit in die Naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal Die Verwoeste Stad genoem word.
19. Daardie dag sal daar binne-in Egipte 'n altaar en op sy grense 'n klippilaar wees wat aan die Here gewy is.