4. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het,
5. maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.”
6. Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek.
7. Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo.
8. En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons.
9. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.