Handelinge 13:11-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.”Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei.

12. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

13. Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan.

14. Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit.

15. Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.”

16. Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister!

17. Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei

18. en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra.

19. Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee.

20. Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur.“Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel.

21. Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer.

22. Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’

23. Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom.

24. Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop.

25. En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’

26. “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur.

27. Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan.

Handelinge 13