Genesis 42:33-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

33. Maar die man in bevel van daardie land het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet of julle eerlike mense is: een van julle moet hier by my bly. Julle ander moet die kos vir julle honger mense gaan wegbring.

34. Bring dan julle jongste broer na my toe. Dan sal ek weet julle is nie spioene nie maar eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee en mag julle vry rondbeweeg in die land.”

35. Toe die seuns hulle graansakke leegmaak, kry elkeen sy beursie met geld in sy sak. Toe hulle dit sien, was hulle en hulle pa baie bang,

36. en het hy vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos. Josef leef nie meer nie, Simeon is nie meer hier nie, en nou wil julle nog vir Benjamin ook wegvat! En ek ly daaronder.”

37. Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan albei my seuns om die lewe bring as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Maak my verantwoordelik vir hom, en ek sal hom vir Pa terugbesorg.”

38. Jakob het net gesê: “Sy broer is dood. My seun gaan nie saam met julle nie. Hy is al wat vir my oor is. As iets hom op die pad moet oorkom, sal ek deur julle toedoen in my ouderdom van verdriet sterf.”

Genesis 42