21. en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.”
22. Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.”
23. Omdat Josef deur 'n tolk met hulle gepraat het, het hulle nie besef dat hy verstaan wat hulle sê nie.
24. Josef het van hulle af weggegaan en gaan huil. Daarna het hy teruggekom na hulle toe en weer met hulle gepraat. Toe het hy vir Simeon gevat en hom voor hulle oë in die tronk gesit.
25. Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle.
26. Toe laai hulle die graan op hulle donkies en vertrek van daar af.
27. Die aand toe een van die broers sy sak oopmaak om sy donkie te voer, sien hy die geld bo in die sak.
28. Toe sê hy vir sy broers: “Kom kyk hier! My geld is teruggesit in die sak.”Hulle was radeloos, en doodgeskrik sê hulle vir mekaar: “Wat het God ons nou aangedoen?”
29. Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän aankom, het hulle alles wat met hulle gebeur het, vir hom vertel:
30. “Die man in bevel van daardie land het ons bars aangespreek en ons vir spioene gehou,
31. maar ons het vir hom gesê dat ons eerlike mense is en nie spioene nie.
32. Ons was twaalf broers en ons het dieselfde pa. Die een broer leef nie meer nie, en die jongste is by Pa in Kanaän.
33. Maar die man in bevel van daardie land het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet of julle eerlike mense is: een van julle moet hier by my bly. Julle ander moet die kos vir julle honger mense gaan wegbring.
34. Bring dan julle jongste broer na my toe. Dan sal ek weet julle is nie spioene nie maar eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee en mag julle vry rondbeweeg in die land.”
35. Toe die seuns hulle graansakke leegmaak, kry elkeen sy beursie met geld in sy sak. Toe hulle dit sien, was hulle en hulle pa baie bang,