Genesis 42:2-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Hy het verder vir hulle gesê: “Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop daar vir ons koring dat ons aan die lewe kan bly, anders sterf ons.”

3. Tien broers van Josef is toe weg na Egipte toe om koring te gaan koop.

4. Jakob het nie Josef se broer Benjamin saamgestuur nie, “want,” het hy gesê, “netnou gebeur daar iets met hom!”

5. Die seuns van Israel het saam met ander mense gegaan wat ook koring in Egipte wou gaan koop omdat daar hongersnood was in die hele Kanaän.

6. Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig.

7. Toe hy sy broers sien, het hy hulle herken. Maar hy het hulle nie laat agterkom wie hy is nie. Hy het hulle bars aangespreek en gevra: “Waarvandaan is julle?”Hulle het hom geantwoord: “Ons is van Kanaän. Ons kom koop graan.”

8. Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9. Hy het aan sy drome van vroeër gedink en vir hulle gesê: “Julle is spioene. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

Genesis 42