Esegiël 46:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Maar wanneer die regeerder 'n stuk van sy grond vir enigiemand in sy diens gee, kan dié persoon dit besit tot in die hersteljaar; dan moet dit terugval na die regeerder toe en weer uitsluitend die familiebesit van sy nageslag word.

18. “Die regeerder mag nie grond van die volk afvat en hulle so uit hulle familiebesit verdring nie. 'n Man se grond moet sy seuns toeval, sodat my volk nie hulle familiebesit ontneem word en verstrooi raak nie.”

19. Die man met die meetstok bring my toe by die ingang langs die noordpoort, die ingang na die gewyde vertrekke van die priesters toe. Daar was 'n plek agter die gebou, aan die westekant,

20. en die man het vir my gesê: “Dit is die plek waar die priesters die vleis moet gaarmaak van die skuldoffer en die sondeoffer en waar hulle die graanoffergeregte moet bak, sodat hulle nie die volk in gevaar stel deur dié gewyde dinge deur die buitenste voorhof te bring nie.”

21. Daarna bring die man my na die buitenste voorhof toe en vat my by die vier hoeke van die voorhof verby. In elke hoek van die voorhof was daar 'n kleiner voorhof.

22. Dié kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed, en daar het rook by hulle uitgekom.

23. Daar was 'n muur om elkeen en binne teen die muur rondom was daar kookplekke aangebring.

24. Die man het vir my gesê: “Dit is die kookplekke waar die tempelbediendes die offervleis van die volk gaarmaak.”

Esegiël 46