Esegiël 40:21-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Die poortgebou het ook weerskante drie sykamers gehad, en die afmetings van sy tussenmure en sy toegangsportaal was dieselfde as dié van die poortgebou wat reeds beskryf is. Dié poortgebou was ook vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.

22. Sy vensteropenings, sy toegangsportaal en sy palmversierings was net so groot as dié van die poort wat oos gekyk het, en die poort is bereik deur middel van sewe trappe. Agteraan was ook 'n toegangsportaal.

23. Daar was 'n poortgebou teen die binneste voorhof regoor die noordpoort net soos in die geval van die oospoort. Die man het die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte gemeet. Dit was vyftig meter.

24. Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidpoort was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was dieselfde as dié in die ander poortgeboue.

25. Net soos die ander, het dié poortgebou se toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad, en was hy vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.

26. Daar was sewe trappe op na die poort toe en agteraan was 'n toegangsportaal. Op elkeen van die tussenmure weerskante was daar 'n palmversiering.

27. Hier aan die suidekant was daar ook 'n poortgebou teen die binneste voorhof. Die man het die afstand tussen die binneste en die buitenste poortgeboue aan die suidekant gemeet. Dit was vyftig meter.

28. Daarna het die man my deur die suidpoort na die binneste voorhof toe gebring, en die suidpoort daar gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander.

29. Die sykamers, die tussenmure en die toegangsportaal in dié gebou het dieselfde afmetings gehad as dié in die ander. Die gebou self en die toegangsportaal het rondom vensteropenings gehad en was vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.

30. Elke poortgebou het 'n toegangsportaal gehad van twaalf en 'n half meter lank en twee en 'n half meter wyd.

31. Die poortgebou het 'n toegangsportaal na die buitenste voorhof toe gehad, palmversierings aan sy tussenmure, en ag trappe op na die poort toe.

Esegiël 40