14. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.
15. Die woord van die Here het tot my gekom:
16. “Mens, vat 'n stuk hout en skryf daarop: Juda en die Israeliete wat sy bondgenote is.“Vat dan nog 'n stuk hout en skryf daarop: Josef. Dit is die stuk hout vir Efraim en die hele Israel wat sy bondgenote is.
17. Druk dan die twee stukke hout teenmekaar sodat hulle soos een stuk in jou hand voel.
18. Wanneer die mense van jou volk vir jou vra: ‘Wil jy nie vir ons vertel wat dit beteken nie?’
19. moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek vat die Josefhout wat staan vir Efraim en die Israelitiese stamme wat sy bondgenote is, en Ek sit dit teen die Judahout en Ek maak van die twee een stuk hout, sodat hulle in my hand een stuk is.
20. “Die stukke hout waarop jy geskryf het, moet in jou hand wees en die mense moet dit sien.
21. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek sal die Israeliete tussen die nasies uit vat waarheen hulle moes gaan, en hulle van alle kante af bymekaarmaak en na hulle land toe bring.
22. Ek sal van hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel, en hulle sal een koning hê. Hulle sal nooit weer twee volke wees nie, nooit weer in twee ryke verdeel word nie.
23. “Hulle sal hulle nooit weer verontreinig met afgode en afskuwelike dade en sondes nie. Ek sal hulle bevry uit al hulle woonplekke waar hulle gesondig het en hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.
24. My dienaar Dawid sal koning oor hulle wees; hulle almal sal net een herder hê, en hulle sal volgens my bepalings leef en my voorskrifte gehoorsaam en nakom.
25. Hulle sal in die land woon wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het, waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders, en my dienaar Dawid sal hulle regeerder wees vir altyd.