6. “Tree op as profeet vir die land Israel en sê vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie: So sê die Here my God: Ek praat in woede, in toorn oor die vernedering wat julle deur die nasies aangedoen is!”
7. So sê die Here my God: “Ek lê 'n eed af dat die nasies rondom julle self verneder sal word!
8. Maar julle, berge van Israel, moet sorg dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby.
9. Ek sal na julle omsien en vir julle sorg: julle sal bewerk en beplant word.
10. Ek sal sorg dat daar baie mense op julle woon, die hele Israel. Die stede sal weer bewoon word, die puinhope herbou word.
11. Ek sal sorg dat daar baie mense en diere op julle is, en hulle sal vrugbaar wees en vermeerder. Ek laat mense op julle woon soos vroeër, dit sal met julle beter gaan as vroeër en julle sal besef dat Ek die Here is.
12. Ek sal weer mense op julle laat loop: my volk Israel. Hulle sal julle in besit neem as hulle eiendom en julle sal hulle nie weer kinderloos laat word nie.”
13. So sê die Here my God: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud.
14. Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.
15. “Ek sal nie toelaat dat julle weer die vernederende aanmerkings van ander nasies moet aanhoor en deur hulle verkleineer word nie. Julle sal nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.
16. Die woord van die Here het tot my gekom:
17. “Mens, toe Israel nog in hulle land gewoon het, het hulle die land verontreinig met hulle optrede en hulle gedrag. Hulle optrede was in my oë net so onrein as 'n vrou wat menstrueer.
18. Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode waarmee hulle die land verontreinig het.
19. Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag.