Eksodus 7:10-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe Moses en Aäron by die farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aäron het sy kierie voor die farao en sy amptenare neergegooi en dit het in 'n groot slang verander.

11. Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde:

12. soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aäron s'n hulle s'n in!

13. Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.

14. Die Here het vir Moses gesê: “Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek.

15. Gaan môre vroeg na die farao toe; hy sal juis op pad wees water toe. Gaan wag vir hom langs die Nyl, met die kierie wat in 'n slang verander het, in jou hand.

16. Sê dan vir hom: ‘Die Here die God van die Hebreërs het my na jou toe gestuur met die opdrag dat jy my volk moet laat gaan om My in die woestyn te dien, maar tot nou toe het jy nie gehoor gegee nie.

17. So sê die Here: Deur wat nou gaan volg, sal jy weet dat Ek die Here is.’ Jy moet ook vir die farao sê: Met hierdie kierie in my hand sal ek op die Nyl se water slaan, en dit sal in bloed verander.

18. Dan sal die vis in die Nyl vrek, en dit sal so stink dat die Egiptenaars nie die water sal kan drink nie.”

19. Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Vat jou kierie en swaai dit oor al die water van Egipte, oor sy kanale, riviere, moerasse en damme, dat dit bloed kan word. Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die hout- en klipbakke.”

20. Toe het Moses en Aäron gedoen presies wat die Here hulle beveel het. Aäron het sy kierie opgelig en voor die oë van die farao en sy amptenare op die Nyl se water geslaan, en al die water het in bloed verander.

21. Die vis in die Nyl het gevrek en die Nyl se water het so gestink dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Oral in Egipte was daar bloed.

22. Maar die Egiptiese towenaars het met hulle towerkunste dieselfde gedoen, sodat die farao koppig gebly het. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.

23. Die farao het omgedraai na sy paleis toe sonder om hom daaraan te steur.

24. Intussen het die hele Egipte langs die Nyl na drinkwater gegrawe omdat hulle nie die Nyl se water kon drink nie.

25. Die toestand het 'n volle sewe dae geduur nadat die Here die Nyl getref het.

Eksodus 7