17. Die voetstukke vir die style was van brons, hulle kramme en gordynstokke van silwer. Hulle kopstukke was met silwer oorgetrek. Al die style van die voorhof het silwergordynstokke gehad.
18. Die afskorting in die ingang van die voorhof was tien meter breed en net soos die gordyne van die voorhof was dit twee en 'n half meter hoog. Dit was van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne, netjiese borduurwerk.
19. Daar was ook nog vier style met bronsvoetstukke, en silwerkramme. Die style se kopstukke was met silwer oorgetrek, en die gordynstokke was van silwer.
20. Al die penne rondom die tabernakel en rondom die voorhof was van brons.
21. Hier volg die hoeveelhede van die materiaal wat gebruik is om die tabernakel waarin die getuienis was, op te rig. Dit is in opdrag van Moses bereken deur die Leviete wat gewerk het onder leiding van Itamar seun van die priester Aäron.
22. Onder leiding van Besaleël seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda, is alles gedoen wat die Here vir Moses beveel het.
23. Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, het hom gehelp. Oholiab was 'n vakman en 'n ontwerper en 'n wewer van blou, pers en bloedrooi wolstof en van linne.
24. Die hoeveelheid goud wat uit die spesiale bydrae ingekom het, en wat gebruik is vir al die werk aan die heiligdom, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was duisend en twee kilogram.
25. Die silwer afkomstig van die volk wat vroeër getel is, bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom, was drie duisend vier honderd sewe en veertig kilogram.
26. Volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit ongeveer ses gram per kop vir elkeen van twintig jaar en ouer wat vroeër getel is: daar was toe ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man.
27. Daar is drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram silwer gebruik vir die giet van die voetstukke vir die style van die heiligdom en sy afskortings. Uit die drie duisend vier honderd sewe en twintig kilogram is honderd voetstukke gegiet, vier en dertig en 'n kwart kilogram per voetstuk.
28. Daar is twintig kilogram silwer gebruik vir die kramme en gordynstokke van die style, asook vir die oortrek van die kopstukke.
29. Die brons wat deur die spesiale bydrae ingebring is, was twee duisend vier honderd ses en twintig kilogram.
30. Hiervan is gemaak die voetstukke vir die style van die deur van die tent van ontmoeting, die bronsaltaar met sy bronstraliewerk, al die gereedskap van die altaar,
31. die voetstukke rondom die voorhof, die voetstukke van die ingang van die voorhof, al die penne van die tabernakel en al die penne rondom die voorhof.