16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.
17. “Julle mag nie afgodsbeelde maak nie.
18. “Julle moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek julle beveel het, moet julle sewe dae ongesuurde brood eet, van die vasgestelde dag van die maand Abib af, want dit is die dag waarop julle uit Egipte weggetrek het.
19. “Elke eersgebore seun behoort aan My; so ook al die manlike eerstelinge van julle beeste en skape.
20. Julle moet elke donkie se eerste hingsvulletjie loskoop met 'n skaap. As julle dit nie doen nie, moet julle die vul se nek breek. Alle eersgebore seuns moet ook losgekoop word.“Niemand mag sonder 'n offer voor My verskyn nie.
21. “Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus.
22. “Jy moet die fees van die weke vier; dit is die fees aan die begin van die koringoes.“Dan is daar nog die fees van die insameling aan die einde van die jaar.
23. “Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn, voor My, die Here die God van Israel.
24. “Ek sal nasies voor jou uit verdryf en vir jou 'n land gee. Drie keer per jaar moet jy voor My, die Here jou God, verskyn. Dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie.
25. “As jy vir die offer slag, moet jy sorg dat die offerbloed weggehou word van iets wat suurdeeg in het.“Die paasoffer mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.
26. “Die keur van die eerste produkte van jou lande moet jy na my huis toe bring, die huis van die Here jou God.“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”
27. Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.”
28. Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf.
29. Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie.
30. Toe Aäron en die Israeliete opmerk dat sy gesig blink, was hulle bang om naby hom te kom.
31. Eers toe Moses hulle nader roep, het Aäron en al die leiers van die volk na hom toe gekom, en hy het met hulle gepraat.