25. Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie.
26. Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”
27. Tog het daar op die sewende dag van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie.
28. Die Here sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle nog weier om my bevele en opdragte te gehoorsaam?
29. Ek het vir julle die sabbat gegee en daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is en niemand mag op die sewende dag sy woonplek verlaat nie.”
30. Die volk het op die sewende dag gerus.
31. Die Israeliete het die kos manna genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak.
32. Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: 'n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het.”
33. Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n kruik en gooi twee liter manna daarin. Sit dit dan voor die Here neer sodat dit vir julle nageslag veilig bewaar kan word.”
34. Aäron het dit voor die getuienis neergesit om dit in bewaring te hou soos die Here vir Moses beveel het.
35. Die Israeliete het veertig jaar lank manna geëet; hulle het dit geëet totdat hulle bewoonde gebied bereik het, tot hulle by die grens van Kanaän gekom het.
36. Die tweelitermaat waarmee die manna afgemeet is, was een tiende van die standaardmaat.