Die Openbaring 16:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe het ek uit die tempel 'n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!”

2. Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid.

3. Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van 'n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan.

4. Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword.

5. Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê:“U is regverdig,U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het;

6. want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet,en U het hulle self bloed laat drink.Dit het hulle verdien.”

7. Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê:“Ja, Here God, Almagtige,betroubaar en reg is u oordele.”

8. Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand.

9. Die mense is deur 'n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.

10. Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn

11. en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.

Die Openbaring 16