25. “Die Here sal jou laat vlug vir jou vyande. Uit een rigting sal jy teen hulle opruk, maar in talle rigtings sal jy voor hulle uit vlug. Jy sal bewe vir al die koninkryke van die aarde.
26. “Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie.
27. Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan jy nie genees sal kan word nie.
28. Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin.
29. Jy sal op die helder middag rondtas soos 'n blinde rondtas in sy donkerte. Jy sal nie voorspoed ondervind nie. Jy sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om jou te help nie.
30. Jy sal aan 'n vrou verloof raak, maar 'n ander man sal haar verkrag; jy sal 'n huis bou, maar nie daarin woon nie; jy sal 'n wingerd plant, maar nie sy vrugte eet nie.
31. Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar jy sal nie daarvan eet nie. Jou donkie sal voor jou oë geroof word en nie weer aan jou terugbesorg word nie. Jou kleinvee sal aan jou vyande gegee word, en daar sal niemand wees wat jou help nie.
32. Jou seuns en dogters sal aan 'n vreemde volk gegee word terwyl jy toekyk, en jou oë sal ingee soos jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal niks daaraan kan doen nie.
33. 'n Volk wat jy nie ken nie, sal die opbrengs eet van jou lande en alles waarvoor jy jou afsloof. Daar sal deurentyd net verdrukking en swaarkry vir jou wees,
34. en jy sal kranksinnig word van wat jy sien.
35. Die Here sal jou tref met kwaadaardige swere aan jou knieë en jou dye. Van kop tot tone sal jy nie genees kan word nie.