Daniël 11:35-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal.

36. “Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.

37. Die koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorgangers of aan die god wat deur vrouens bemin word of aan enige ander god nie, maar sal homself belangriker as hulle almal beskou.

38. Hy sal nie hierdie gode vereer nie, maar die vestinggod, 'n god vir wie sy voorgangers nie geken het nie. Hom sal hy vereer met goud, silwer, edelstene en kosbare geskenke.

39. Met behulp van dié vreemde god sal hy teen die vyand se versterkte vesting optree. Aan wie hom erken, sal hy groot eer bewys en hulle as regeerders oor baie aanstel. Hy sal grond aan hulle uitdeel as geskenke.

40. “In die eindtyd sal die koning van die suide hom aanval, maar hy sal teen die koning van die suide opruk met strydwaens, ruitery en baie skepe en sal die een land na die ander oorval soos 'n oorstroming.

41. Hy sal selfs die beloofde land inval. Baie lande sal voor hom val, maar Edom, Moab en die beste dele van Ammon sal uit sy mag ontkom.

42. Hy sal sy mag uitbrei oor baie lande, en selfs Egipte sal nie ontkom nie.

43. Hy sal oor Egipte se skatte, sy goud, sy silwer, al sy kosbare dinge, beheer hê en hy sal ook die Libiërs en die Kussiete onderwerp.

44. Dan sal gerugte uit die ooste en die noorde hom ontstel, en hy sal woedend optrek om baie mense dood te maak en uit te roei.

45. Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie.

Daniël 11