10. Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom.
11. Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk.
12. Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie.
13. As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.”
14. Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.”Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.
15. Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad.
16. Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.”
17. Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig.
18. 'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim.