2 Samuel 10:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Die Ammoniete het uitgegaan en voor die stadspoort stelling ingeneem, en die Arameërs van Soba, Regob, Is-Tob en Maäka was op hulle eie in die oop veld.

9. Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem.

10. Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.

11. Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help.

12. Wees dapper en ons sal ook dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind!”

13. Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug.

14. Toe die Ammoniete gewaar dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abisai gevlug en die stad ingegaan. Joab is toe van die Ammoniete af weg na Jerusalem toe.

15. Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle 'n bondgenootskap gesluit.

16. Hadad-Eser het naamlik afvaardigings gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat af laat kom. Hulle leër het gekom, en Sobak, die hoof van Hadad-Eser se leër, het die leiding geneem.

17. Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak, die Jordaan oorgesteek en by Gelam gekom. Die Arameërs het teenoor hom stelling ingeneem en die stryd aangeknoop.

18. Aram het egter vir Israel gevlug. Dawid het sewe honderd man op strydwaens en veertig duisend oorlogsperde van Aram om die lewe gebring. Hy het verder ook vir Sobak, die hoof van hulle leër, so ernstig gewond dat hy daar gesterf het.

19. Toe al die konings wat onderhorig was aan Hadad-Eser, besef dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle vrede gesluit met Israel en aan hom onderhorig geword. Die Arameërs was bang om weer die Ammoniete te help.

2 Samuel 10