2 Samuel 10:5-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Dit is aan Dawid meegedeel. Hy het toe boodskappers na hulle toe gestuur, want die manne was baie skaam.Die koning het laat weet: “Bly voorlopig in Jerigo totdat julle baard gegroei het en kom dan huis toe.”

6. Die Ammoniete het geweet dat hulle hulle by Dawid in onguns gebring het. Hulle het toe 'n afvaardiging gestuur en by die Arameërs van Bet-Regob en by dié van Soba twintig duisend voetsoldate gehuur; by koning Maäka het hulle duisend gehuur en by Is-Tob twaalf duisend.

7. Toe Dawid dit verneem, het hy Joab met die hele leër gestuur, almal dapper manne.

8. Die Ammoniete het uitgegaan en voor die stadspoort stelling ingeneem, en die Arameërs van Soba, Regob, Is-Tob en Maäka was op hulle eie in die oop veld.

9. Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem.

10. Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.

11. Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help.

12. Wees dapper en ons sal ook dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind!”

13. Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug.

2 Samuel 10