2 Kronieke 36:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Met die wisseling van die jaar het koning Nebukadnesar hom na Babel toe laat haal saam met die kosbare goed in die huis van die Here, en sy broer Sedekia koning oor Juda in Jerusalem gemaak.

11. Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en het elf jaar in Jerusalem geregeer.

12. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Hy het nie berou getoon toe die profeet Jeremia hom op bevel van die Here aangespreek het nie.

13. Ook teen koning Nebukadnesar, aan wie hy voor God trou gesweer het, het hy hom verset. Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer.

14. Al die leiers van die priesters en die volk het ook weer in groot troueloosheid verval na die voorbeeld van die afskuwelike optrede van die heidennasies, en hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, ontwy.

15. Die Here die God van hulle voorvaders het voortdurend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning,

16. maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik.

17. Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee.

18. Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat.

19. Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes.

2 Kronieke 36