7. Dit was die goddelose Atalia en haar volgelinge wat die tempel in verval laat raak het. Hulle het selfs die wydingsgeskenke van die huis van die Here vir die Baäls gebruik.
8. In opdrag van die koning is daar toe 'n kis gemaak en voor die tempelpoort gesit,
9. en in Juda en in Jerusalem is aangekondig dat die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn al van Israel gevra het, vir die Here gebring moes word.
10. Al die leiers en die hele volk het die geld met blymoedigheid gebring en in die kis gegooi. So het al die bydraes ingekom.
11. Telkens wanneer die kis na die Leviete toe gebring is vir kontrole namens die koning, en hulle vasgestel het dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en 'n beampte van die hoëpriester gekom en die kis leeggemaak. Dit is dan weer op sy plek terug gesit. So het hulle elke keer gedoen, en daar is baie geld ingesamel.
12. Die koning en Jojada het die geld oorhandig aan die mense wat vir die instandhouding van die huis van die Here moes sorg, en dié het klipkappers en ander vakmanne in diens geneem om die huis van die Here te herstel, en ook vakmanne in yster en brons vir die opknapwerk.
13. Die werkers het gewerk en die herstelwerk het vinnig gevorder. Hulle het die tempel herbou sodat dit weer was soos vroeër; hulle het dit weer sterk gemaak.
14. Nadat die werk afgehandel is, is die geld wat oorgebly het, aan die koning en Jojada oorhandig, wat daarmee tempelgereedskap laat maak het: gereedskap vir die tempeldiens en die offers, panne, en ook goue en silwergereedskap. Solank Jojada geleef het, is daar voortdurend brandoffers by die tempel gebring.
15. Jojada het 'n hoë ouderdom bereik. Hy is dood toe hy honderd en dertig jaar was.
16. Hy is in die Dawidstad begrawe, by die konings, omdat hy goeie werk gedoen het vir Israel, vir God en sy tempel.
17. Na die dood van Jojada het die leiers van Juda die koning kom ophemel, en hy het hom dit laat geval.
18. Toe het hulle die huis van die Here die God van hulle voorvaders verlaat en gewyde pale en afgodsbeelde gaan dien. Met dié sondige optrede van hulle het Juda en Jerusalem die toorn van die Here op hulle gehaal.
19. Die Here het profete na hulle toe gestuur om hulle na Hom toe terug te bring, en die profete het hulle gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie.