3. Dit het met Juda gebeur op bevel van die Here, omdat Hy Juda uit sy teenwoordigheid wou verwyder oor die sonde van Manasse, oor alles wat hy gedoen het,
4. ook oor die mense wat hy onskuldig laat doodmaak het. Jerusalem was vol van die bloed van onskuldige mense, en die Here wou dit nie vergewe nie.
5. Die ander verhale oor Jojakim en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
6. Jojakim is oorlede, en sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.
7. Die koning van Egipte het nie weer 'n veldtog buite sy land aangepak nie, want die koning van Babel het die gebied van Egiptespruit af tot aan die Eufraat verower, die hele gebied wat voorheen aan die koning van Egipte behoort het.
8. Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Negusta, 'n dogter van Elnatan uit Jerusalem.
9. Jojagin het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.
10. In dié tyd het die leër van koning Nebukadnesar van Babel 'n aanval op Jerusalem begin en die stad beleër.
11. Nebukadnesar het self na die stad toe gekom terwyl sy soldate dit beleër het.
12. Koning Jojagin van Juda het hom oorgegee aan die koning van Babel, hy, sy ma, sy lyfwag, sy amptenare en sy offisiere. Jojagin is deur die koning van Babel gevange geneem in sy agste regeringsjaar.
13. Nebukadnesar het, soos die Here vantevore gesê het, al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die paleis gevat en hy het al die goue goed stukkend geslaan wat koning Salomo van Israel vir die tempel van die Here laat maak het.
14. Nebukadnesar het die hele Jerusalem weggevoer: al die amptenare, al die soldate, tien duisend gevangenes, ook die vakmanne en die smede. Niemand het agtergebly nie behalwe die armstes van die landsbevolking.