1. Daarna het Dawid uit die profetekwartiere in Rama padgegee en by Jonatan gekom en vir hom gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding of wat het ek verkeerd gedoen teenoor jou pa dat hy my lewe soek?”
2. Jonatan het hom geantwoord: “Nee, wag. Jy sal nie sterwe nie. Jy weet goed my pa doen niks, groot of klein, sonder om dit vertroulik vir my te vertel nie. Waarom sou my pa dan hierdie ding vir my wegsteek? Dit is nie soos jy dink nie.”
3. Dawid het toe vir Jonatan met 'n eed verseker: “Jou pa weet baie goed dat jy van my hou en hy het gedink: Jonatan mag dit nie weet nie sodat hy nie sleg voel nie. Maar so seker as die Here leef en so seker as jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”
4. En Jonatan sê vir Dawid: “Ek sal vir jou doen net wat jy wil hê.”
5. Dawid sê toe vir Jonatan: “Môre is dit nuwemaan, en ek móét saam met die koning aansit om te eet. Maar laat my gaan dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand.
6. As jou pa uitdruklik na my vra, moet jy sê: ‘Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem toe te gaan, want die hele familie se jaarlikse offer vind daar plaas.’
7. As hy sou sê: ‘Goed!’ dan is ek veilig, maar as hy baie kwaad word, weet dan beslis dat hy klaar besluit het om my dood te maak.
8. Jy het my met 'n verbond van die Here aan jou verbind. Toon jou trou aan my, en as ek skuldig is, maak jý my dan dood. Waarom moet jy my nog na jou pa toe bring?”
9. Toe antwoord Jonatan: “Nee, as ek seker weet dat my pa klaar besluit het om jou dood te maak, sal ek jou dit beslis laat weet.”
10. Dawid sê toe vir Jonatan: “Wie sal vir my kom sê of jou pa jou 'n harde antwoord gegee het?”
11. Jonatan het daarna vir Dawid gesê: “Kom ons gaan uit veld toe.”Hulle twee het veld toe gegaan,
12. en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker as die Here die God van Israel leef, ek sal my pa môre of oormôre pols. Hy sal gunstig gestem wees teenoor jou. So nie, sal ek na jou toe stuur en dit in die geheim aan jou bekend maak.
13. Mag die Here my om die lewe bring as my pa besluit het om jou dood te maak en ek jou dit nie in die oor fluister nie en jou nie kans gee om veilig weg te kom nie. Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was.