1 Samuel 18:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.

10. Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies.

11. Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen.Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal.

12. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat.

13. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree

14. en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was.

15. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom.

16. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

17. Later het Saul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Jy moet net vir my 'n dapper man wees en die oorloë van die Here voer.”Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees.

18. Dawid sê toe vir Saul: “Wie is ek en wie is my broers en my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun mag word?”

1 Samuel 18