1 Kronieke 11:3-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Daarna het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dit was in ooreenstemming met die belofte van die Here deur Samuel.

4. Dawid en die hele Israel het toe opgetrek teen Jerusalem, dit is Jebus. Die Jebusiete, oorspronklike inwoners van die land, het toe daar gewoon.

5. Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie.”Tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem: dié is nou die Dawidstad.

6. Dawid het destyds gesê: “Enigeen wat die eerste 'n Jebusiet neervel, word leier en aanvoerder!”Joab seun van Seruja het toe eerste die stad ingegaan en hy het leier geword.

7. Omdat Dawid toe in die vesting gaan woon het, noem hulle dit die Dawidstad.

8. Hy het die stad rondom uitgebou, van die terras af verder, en Joab het die res van die stad herstel.

9. Dawid het al hoe sterker geword, en die Here die Almagtige was by hom.

10. Nou volg iets oor die leiers van Dawid se dapper manne. Hulle was sterk ondersteuners van sy koningskap en saam met die hele Israel het hulle hom op die troon geplaas, soos die Here aan Israel beloof het.

11. Hier is 'n lys van die dapper manne: Jasobam seun van Gakmoni was hoof van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man in een veldslag laat sneuwel.

1 Kronieke 11