13. Hy was by Dawid in Efes-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg bymekaargekom het. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe op die vlug slaan vir die Filistyne,
14. het die drie dapper manne binne in die land stelling ingeneem en dit behou. Hulle het die Filistyne verslaan, en so het die Here vir hulle 'n groot oorwinning gegee.
15. Op 'n keer het drie ander van die dertig leiers na Dawid toe gekom by die rots by die Adullamgrot. Die Filistynse kamp was in die Spooklaagte opgeslaan.
16. Dawid was toe in 'n bergskuiling en die Filistyne het Betlehem beset.
17. Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”
18. Die drie het toe deur die Filistynse kamp geglip en water gaan skep uit die put in Betlehem se poort. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet
19. en gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Sou ek die bloed van hierdie manne ten koste van hulle lewens wou drink? Hulle het dit met lewensgevaar gebring, en ek durf dit nie drink nie.”Dit is wat die drie helde gedoen het.
20. Joab se broer Abisai was die leier van hierdie drie. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. So het hy vir hom onder die drie naam gemaak.
21. Hy het 'n ereplek gehad in die tweede drietal en was hulle aanvoerder, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.
22. Benaja seun van Jojada was die seun van 'n krygsman. Hy was 'n man van baie dade, afkomstig uit Kabseël. Dit is hy wat die twee sterk manne van Moab doodgemaak het, en hy wat op 'n sneeudag in 'n put afgeklim en die leeu wat daarin was, doodgemaak het.