1 Konings 22:15-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Toe Miga by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ons dit laat staan?”“Gaan gerus,” antwoord Miga, “u sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”

16. Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”

17. Toe sê Miga:“Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesiensoos skape wat nie 'n wagter het nie.Die Here het gesê: Hulle het nie 'n koning nie,laat hulle maar in vrede teruggaan,elkeen na sy huis toe.”

18. Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.”

19. En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan.

20. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat,

21. totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’

22. sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’

23. So het die Here 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”

24. Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”

25. En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”

26. Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga weg en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe.

27. Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”

28. Maar Miga het gesê: “As u ooit behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe.”

29. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe.

30. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.”Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan.

31. Die Aramese koning het die aanvoerders van sy twee en dertig strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.”

32. Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep.

33. Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak.

1 Konings 22