1 Konings 18:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Agab het vir Obadja, die paleisopsigter, na hom toe laat kom. Obadja het die Here pligsgetrou gedien.

4. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja honderd geneem en hulle vyftig-vyftig in grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

5. Agab het vir Obadja gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.”

6. Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in 'n ander rigting.

7. Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!”

8. Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”

9. Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak?

10. So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met 'n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie.

11. Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’

12. As ek nou van u af sou weggaan, en die Gees van die Here neem u weg, sonder dat ek weet waarheen, en ek gaan vertel vir Agab ek het u gesien, maar hy kan u nie kry nie, dan maak hy my beslis dood. En dit terwyl ek die Here van my jeug af dien.

13. Het hulle u nie vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie, dat ek honderd profete van die Here vyftig-vyftig in grotte weggesteek het en hulle van kos en water voorsien het?

14. Nou stuur u my sommer om vir koning Agab te gaan sê Elia is hier. Hy sal my mos doodmaak.”

15. Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.”

16. Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom.

1 Konings 18