3. Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie.
4. Dit is ter wille van Dawid dat die Here sy God aan hom 'n nakomeling gegee het om in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou.
5. Dit was omdat Dawid gedoen het wat reg is in die oë van die Here, en sy lewe lank nooit die opdragte van die Here verontagsaam het nie, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.
6. Gedurende Rehabeam se hele regering was daar oorlog tussen hom en Jerobeam.
7. Die ander verhale oor Abia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.
8. Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.
9. In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda.
10. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.
11. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid.
12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het.
13. Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand.
14. Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here.
15. Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap.
16. Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.
17. Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat.
18. Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus.Asa het die volgende boodskap saamgestuur:
19. “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons ouers. Ek stuur vir u 'n geskenk van silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”
20. Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa se versoek. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hy het Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret saam met die hele gebied van Naftali verower.