1 Konings 13:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet die man van God wat hy laat omdraai het, se donkie opgesaal.

24. Die man van God het vertrek en onderweg het 'n leeu op hom afgekom en hom doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, die donkie het daar langsaan gestaan, en die leeu het langs die liggaam bly staan.

25. Mense wat daarlangs gekom het, het die liggaam daar in die pad sien lê en die leeu wat langs die liggaam staan, en hulle het dit kom vertel in die stad waar die óú profeet gewoon het.

26. Toe die óú profeet wat hom van sy pad af teruggebring het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat die opdrag van die Here verontagsaam het. Nou het die Here beskik dat 'n leeu hom verskeur en doodmaak, soos Hy oor hom laat sê het.”

27. Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”Nadat hulle dit gedoen het,

28. gaan hy en kry die liggaam daar in die pad, terwyl die donkie en die leeu daarby staan. Die leeu het nie die liggaam gevreet nie en hy het nie die donkie verskeur nie.

29. Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie getel en dit na Bet-El die stad van die óú profeet toe gebring om daar oor hom te treur en hom te begrawe.

30. Hy het die liggaam in sy eie graf begrawe, en hulle het oor hom getreur en gesê: “Ag, my broer.”

31. Na die begrafnis het hy vir sy seuns gesê: “As ek te sterwe kom, moet julle my begrawe in dieselfde graf as dié waarin die man van God begrawe is. Sit my bene langs syne neer.

1 Konings 13