18. Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.
19. Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes.
20. Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.
21. Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy vir die farao gesê: “Laat my toe om na my land toe terug te gaan.”
22. Die farao sê toe vir hom: “Kom jy iets kort hier by my dat jy nou skielik na jou land toe wil teruggaan?”“Nee,” sê hy, “maar laat my asseblief maar gaan.”
23. God het nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, 'n onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba wat vir die koning gevlug het.
24. Reson het 'n groep mans om hom versamel, en hy was die leier van die bende. In die tyd toe Dawid die Arameërs uitgeroei het, het hulle na Damaskus toe gevlug. Hulle het in Damaskus gaan woon en Reson daar tot koning uitgeroep.
25. Hy was vyandig teen Israel solank Salomo geleef het. Dit was nog behalwe die kwaad wat Hadad gedoen het. Reson was koning van Aram en hy het Israel verafsku.
26. Daar was ook Jerobeam seun van Nebat, 'n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, 'n weduwee. Hy was 'n onderdaan van Salomo wat teen die koning in opstand gekom het.
27. Dit het so gebeur: Salomo was besig om die terras te bou waarmee hy die opening in die muur van die Dawidstad toegemaak het.
28. Jerobeam was 'n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.