1 Konings 10:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor!

9. Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

10. Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.

11. Bowendien het die skepe van Hiram wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog 'n groot hoeveelheid jenewerhout en edelstene gebring.

12. Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.

13. Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

14. Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop,

15. behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.

16. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik.

17. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

18. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen.

20. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

21. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.

1 Konings 10