Rigters 6:18-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom.

19. Toe het Gídeon ingegaan en ’n bokkie berei, en van ’n efa meel ongesuurde koeke; die vleis het hy in ’n mandjie gesit en die sous in ’n pot gegooi; en hy het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit.

20. Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het so gedoen.

21. Daarop steek die Engel van die Here die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die Here verdwyn uit sy oë.

22. Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die Here was, sê Gídeon: Ag, Here Here! want ek het die Engel van die Here gesien van aangesig tot aangesig!

23. Maar die Here sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie.

24. Toe bou Gídeon daar ’n altaar vir die Here en noem dit: Die Here is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete.

25. En in dieselfde nag het die Here vir hom gesê: Neem die bul van jou vader, naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan.

26. En bou vir die Here jou God ’n altaar op die top van hierdie vesting deur opstapeling, en neem die tweede bul en bring dit as ’n brandoffer met die hout van die heilige boomstam wat jy moet afkap.

27. Toe het Gídeon tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die Here aan hom gesê het; maar omdat hy te bang was vir sy familie en vir die manne van die stad, om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen.

Rigters 6