Rigters 21:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En dit is die ding wat julle moet doen: Alles wat manlik is, en al die vroue wat die gemeenskap met die man ken, moet julle met die banvloek tref.

12. En hulle het onder die inwoners van Jabes in Gílead vierhonderd meisies aangetref, jongmeisies wat geen gemeenskap met ’n man gehad het nie, en dié het hulle na die laer gebring in Silo wat in die land Kanaän lê.

13. Toe stuur die hele vergadering en hulle spreek met die kinders van Benjamin wat by die rots Rimmon was, en bied hulle die vrede aan.

14. Daarop het Benjamin in dié tyd teruggekom; en hulle het die vroue wat hulle uit die vroue van Jabes in Gílead in die lewe behou het, aan hulle gegee, maar só was daar vir hulle nie genoeg nie.

15. En die volk het Benjamin jammer gekry, omdat die Here ’n skeuring gemaak het onder die stamme van Israel.

16. Toe sê die oudstes van die vergadering: Wat kan ons doen vir die wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want die vroue was uit Benjamin verdelg.

17. Verder sê hulle: Die besitting van die wat oorgebly het, behoort aan Benjamin, sodat geen stam uit Israel mag uitgedelg word nie.

18. Maar ons self kan hulle geen vroue uit ons dogters gee nie; want die kinders van Israel het gesweer en gesê: Vervloek is hy wat ’n vrou aan Benjamin gee.

19. Toe sê hulle: Kyk, daar is jaar vir jaar ’n fees van die Here in Silo wat noord van Bet-el lê, oostelik van die grootpad wat opgaan van Bet-el na Sigem, en suid van Lebóna.

20. En hulle het die kinders van Benjamin bevel gegee en gesê: Gaan en lê en loer in die wingerde.

21. En let op, en kyk, as die dogters van Silo uittrek om hulle koordanse uit te voer, dan moet julle uit die wingerde uitkom, en julle moet vir julle, elkeen sy vrou, uit die dogters van Silo vang en na die land Benjamin gaan.

22. En as hulle vaders of hulle broers kom om by ons ’n saak te maak, sal ons vir hulle sê: Skenk hulle aan óns, want ons het nie vir elkeen ’n vrou in die oorlog geneem nie. Julle self het hulle mos nie aan hulle gegee nie; in dié geval alleen sou julle skuldig gewees het.

23. Die kinders van Benjamin het toe so gedoen: hulle het vroue volgens hulle getal weggedra uit die danseresse wat hulle geroof het; en hulle het weggegaan en teruggekeer na hul erfdeel toe, en hulle het die stede opgebou en daarin gewoon.

Rigters 21