4. Daarna het hy ’n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was.
5. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en sê vir haar: Haal hom oor en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en hom kan bind om hom te bedwing; dan sal ons jou elkeen elfhonderd sikkels silwer gee.
6. Toe vra Delíla vir Simson: Vertel my tog waardeur jou krag so groot is, en waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing.
7. En Simson sê vir haar: As hulle my bind met sewe vars lyne wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos ’n ander mens.
8. Daarop het die vorste van die Filistyne vir haar sewe vars lyne gebring wat nie uitgedroog was nie, en sy het hom daarmee gebind.
9. En terwyl haar spioene in die kamer klaar sit, sê sy vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! Toe verbreek hy die lyne soos ’n vlasdraad breek as dit vuur ruik; maar sy krag het nie bekend geword nie.
10. Toe sê Delíla vir Simson: Kyk, jy het my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my nou tog waarmee jy gebind kan word.
11. En hy antwoord haar: As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee geen werk gedoen is nie, dan sal ek swak word en wees soos ’n ander mens.
12. Toe het Delíla nuwe toue geneem en hom daarmee gebind en vir hom gesê: Die Filistyne op jou, Simson! terwyl die spioene in die kamer klaarsit; maar hy het dit soos ’n draad van sy arms af verbreek.
13. En Delíla sê vir Simson: Tot nou toe het jy my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my waarmee jy gebind kan word. En hy antwoord haar: As jy die sewe haarvlegsels van my hoof met die weefsel saam invleg.
14. Sy druk dié toe vas met die pen en sê vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! En hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefsel uitgeruk.
15. Toe sê sy vir hom: Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie.
16. En omdat sy hom met haar woorde aldae gepers en by hom aangedring het, het hy so ongeduldig geword, dat hy kon sterf.