Rigters 16:18-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Toe Delíla sien dat hy sy hele hart aan haar bekend gemaak het, laat sy die vorste van die Filistyne roep en sê: Kom hierdie keer op, want hy het sy hele hart aan my bekend gemaak. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en bring die geld met hulle saam.

19. En sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak en ’n man geroep en die sewe haarvlegsels van sy hoof afgeskeer. En sy het begin om hom te bedwing, en sy krag het van hom gewyk.

20. Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie.

21. Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.

22. Maar die hare van sy hoof het weer begin groei sodra dit afgeskeer was.

23. En die vorste van die Filistyne het vergader om ’n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.

24. En toe die volk hom sien, prys hulle hul god; want hulle het gesê: Ons god het ons vyand en die rinneweerder van ons land, wat ook baie van ons laat sneuwel het, in ons hand gegee.

25. En toe hulle hart vrolik was, sê hulle: Roep Simson, dat hy vir ons speel; en hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hy het voor hulle gespeel, en hulle het hom tussen die pilare laat staan.

26. Daarop sê Simson aan die dienaar wat hom aan die hand hou: Laat my staan, en laat my die pilare betas waar die huis op rus, dat ek daarteen kan leun.

27. En die huis was vol manne en vroue, en al die vorste van die Filistyne was daar, en op die dak omtrent drieduisend manne en vroue wat kyk hoe Simson speel.

28. Toe roep Simson die Here aan en sê: Here, Here, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek!

Rigters 16