10. EN dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom.
11. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom ’n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek.
12. Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag ’n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie.
13. En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.
14. En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad.
15. En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.
16. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie.
17. En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart?
18. Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?
19. En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf.
20. En die sewe vir die vierduisend — hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe.
21. Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!
22. EN Hy het in Betsáida gekom, en hulle het ’n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak.
23. Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien.
24. En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop.