Markus 14:13-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en ’n man wat ’n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom,

14. en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?

15. En hy sal julle ’n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak.

16. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.

17. En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.

18. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.

19. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En ’n ander een: Is dit miskien ek?

20. En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek.

21. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.

22. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

23. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.

24. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.

25. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.

26. En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

27. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.

28. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.

29. En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.

30. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.

31. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.

32. TOE kom hulle in ’n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.

Markus 14