Levítikus 23:21-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ’n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ’n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.

22. En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die Here julle God.

23. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

24. Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ’n rusdag wees, ’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag.

25. Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die Here ’n vuuroffer bring.

26. Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:

27. Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ’n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ’n vuuroffer bring.

28. En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ’n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die Here julle God.

29. Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.

30. Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit.

31. Julle mag géén werk doen nie; dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.

32. ’n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.

33. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

Levítikus 23