Levítikus 23:13-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. en die spysoffer wat daarby behoort, twee-tiendes van ’n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die Here, ’n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, ’n kwart hin.

14. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.

15. Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees;

16. tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring.

17. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee-tiendes van ’n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here.

18. Julle moet ook by die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet ’n brandoffer aan die Here wees saam met die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

19. En julle moet een bokram as sondoffer berei. Ook twee jaaroud lammers as dankoffer,

20. en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan die Here heilig wees, ten voordele van die priester.

21. En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ’n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ’n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.

22. En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die Here julle God.

Levítikus 23