Levítikus 16:22-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ’n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.

23. Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.

24. En hy moet sy liggaam op ’n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen.

25. Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek.

26. En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.

27. Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om versoening te doen in die heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.

28. En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.

29. En dit moet vir julle ’n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie — die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.

30. Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die Here rein word.

31. ’n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is ’n ewige insetting.

32. En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek

33. en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen.

34. En dit moet vir julle ’n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos die Here Moses beveel het.

Levítikus 16