Johannes 18:11-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?

12. EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;

13. en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.

14. En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.

15. En Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.

16. Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.

17. Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.

18. En die diensknegte en die dienaars het by ’n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer.

20. Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.

Johannes 18