1. SO sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie:
2. Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan.
3. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Israel;
4. ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ’n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie.
5. Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,
6. sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die Here, en daar is geen ander nie;
7. wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die Here, is dit wat al hierdie dinge doen.
8. Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die Here, het dit geskape.
9. WEE hom wat met sy Formeerder twis — ’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
10. Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?
11. So sê die Here, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
12. Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.
13. Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hý sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die Here van die leërskare.
14. So sê die Here: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!
15. Waarlik, U is ’n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.
16. Hulle het beskaamd gestaan en ook in die skande gekom, hulle almal; hulle het tesame met skande heengegaan — die wat afgode maak.